Bestuur

Cindy Coetzee

Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-Unie

Gebore in Lydenburg en grootgeword in Middelburg waar ek steeds vandag woon. Ek het rekenaarprogramering studeer en is daarna getroud. Ek is ‘n trotse ouer van drie jong manne en my hoogste roeping in die lewe - om ouma te wees van twee pragtige kosbare klein dogtertjies. Ek het by VLU Meyersbrug tak aangesluit in 1999 as ‘n skamerige jong vrou met drie woelwaters en voltyds in ons eie besigheid gewerk. VLU het nie op haar laat wag nie en ek is verkies as sekretaresse en later as voorsitster van my tak. ‘n Paar jaar later verkies as Kosmosstreek se voorsitster. Ek het die Magrietjie tak gestig in 2017 en is lid van die jolige klomp leergierige dames. Ek hou van tuinmaak, bak en brou, lees en my kleindogtertjies te leer van inmaak, koekies bak en plante se name te leer. Rond ry is my lekkerste stokperdjie en om ons lieflike  land te verken. Alles wat ek vandag weet – het ek  by VLU of as gevolg van VLU geleer. As jy nou hier lees, het jy ook ‘n leergierige gees en  nooi ek jou om aan te sluit by jou naaste VLU tak. Jou lewe word verryk met kennis, vriendskappe en jou talente gaan beslis ontdek word.

Antoinette Van der Walt

Federation Of Women's Institutes

Groot geword en gematrikuleer in Elsburg.  Getroud met my kinderjare liefde in 1985 en is baie trots op by 3 kinders, al 3 gelukkig getroud en 5 kleinkinders. Ons het verskeie kere verhuis: van Pretoria (10  jr)  na Parys (8 jr)  toe na Potchefstroom vir 7 jaar. Daarna na Reddersburg vir  3.5 jaar  en nou in Empangeni vir die afgelope 9 jaar.  In Reddersburg het ek vir die eerste keer te doen gekry met die VLU. Wat 'n dinamiese groupie vroue.  Spoedig was ek die ondervoorsitter. In Empangeni het ek dadelik die VLU opgesoek en toe gehoor maar in Natal is dit die FWI. (Federation of Womens Institute). Wel, binne 'n paar maande was ek die President van die Empangeni tak, vir 4 jaar die 1st visie Streeksvoorsitter en toe vir 4 jaar Streeksvoorsitter. September 2022 het ek die groot voorreg gehad om as FWI Presidente verkies te word.  My passie is bejaardes, bake n brou en kreatiewe kuns. (Mosaik, papierwerk ens). Ek sien uit na die tydperk wat voorlê en vir nog 'n uitdaging om van 'n sukses te maak.

Alna Kapp

Vroue Landbou-Unie Mpumalanga

Die opdrag van ons SA President is: “Stel jouself voor sodat ons jou beter kan leer ken.”Sjoe, dit dwing mens tot stillstand as jy oor jouself begin dink. Skielik sien mens net al die goeie en mooi in jou lewe raak, besef ek dat die moeilike dinge wat ek al deurleef het, sommer vaag raak. My ma het aan die Vlu in Pretoria behoort dus, toe ek later in ‘n boerderygemeenskap introu met ‘n skoonma wat óók ‘n gesoute Vlu-vrou was, was die druk daar om ook aan te sluit. Ek het egter volstaan dat ek eers sou kinders grootmaak. Toe my oudste seun begin skoongaan, sluit ek op nege-en-twintig by Platrand Vlu-tak aan. So word Vlu ‘n leefwyse oor Twee-en-Dertigjaar. Ontdek ek talente en slyp ek saam met vriendinne vaardighede. In ons gemeenskap word die Vlu-dames hoog aangeslaan en vorm inderdaad die ruggraat wat die gemeenskap dien.  My man, Johan, het aan my die vryheid gegee en aangemoedig om alles wat Vlu bied te doen want hy kon sien dat dit my gelukkig maak. Vlu het ‘n belangrike balans aan my lewe gegee. Wanneer ek ‘n Vlu-dag gehad het, het ek  herlaaide energie gehad vir ons vyf kinders met hul uiteenlopende unieke geaardhede. Ons gesin wat nou almal getroudes is en sewe kleinkinders, is almal buitelugmense. Met die vryheid wat die plaaslewe bied speel ons nou-nog Krieket en Jukskei wanneer ons by mekaar kuier. Ons ry graag lang afstande met ons kwadfietse en sal maklik die honderd kilometer Vrede toe grondpadlangs aandurf. Hierdie het ‘n jaarlikse instelling in die buurt geword, ‘n hele paar gesinne neem deel aan die uitstappie. Ek het tot so tien jaar gelede die rit met my motorfiets aangepak, maar baie seer geval. My man het onmiddelik my motorfiets verkoop. My lewe in ‘n neutedop is geseënd, met gesonde balans. Die Vlu-pad wat ek nou stap is ‘n uitdaging waarna ek opgewonde uitsien. Ek is dankbaar vir die geleentheid om terug te ploeg in die organisasie waarvoor ek lief is. Hierdie is tyd om herinneringe te skep vir eendag …

Hermien van den Berg

Namibiese Vroue Vereniging

Dit is altyd moeilik om myself aan mense bekend te stel wat my nie ken nie, die beste manier om my te leer ken is om die lewenspad saam met my te stap. Ek is gebore in Windhoek en bly nog steeds in ons mooi land Namibië met die  gasvryste  mense. 'n Land met uiterstes en uitdagings wat onder jou vel kom inkruip. Ek is die afgelope 15 jaar in die eiendomsbedryf, wat jou deursettingsvermoë leer. Ek hou van 'n uitdaging, is positief, die glas is altyd half vol en was van jongs af in leiers posisies. My voorliefde as Boskok is om toergangers te bederf met kampos in die bos gemaak op vuur, toere deur Namibië, Angola, Botswanna, Zambië, asook Suid-Afrika verbreed jou kennis van mense en plekke. Die Namibiese Vroue Vereniging is al 34 jaar deel van my lewe en ek sien uit daarna om ons Vereniging te lei, saam met die dames.

Ria Strydom

Vroue Landbou-Unie Noord

Gebore aan die Natalse Suidkus en bring my kinderjare deur  in Alberton in Gauteng. Studeer onderwys aan die Goudstadse Onderwyskollege. Na my onderwys dae het ek met ‘n pottebakkers studio in Roodepoort begin. Vandag bedryf ek my studio vanuit Vaalwater in die Limpopo provinsie. Ek sluit aan by VLU in 2011 by Ellisrastak waar ek dan na ‘n paar maande die pos van sekretaresse behartig. Dien ook as Tesouriere van Bosveldstreek op die bestuur. Word verkies as Voorsitter van Ellisrastak waarna ek dan verkies word as Streekvoorsitter van Bosveldstreek. Gedurende 2021 word ek verkies as Presidente van VLU Noord asook tesouriere van SAVLU. Wat ‘n wonderlike voorreg om met dames betrokke te wees op hierdie spesiale manier. Om my kennis te deel is wie ek is en ek is baie dankbaar om hierdie passie van my so te kan uitleef. My man en kinders deel my passie en dit hou ek styf teen my hart. Ons kleinkinders is die reenboog in ons lewe. Alle eer aan die Here vir so ‘n wonderlike vol en geseënde lewe.

Gerda Swart

Noordwes Vroue Landbou-Unie

Gerda Swart (nee Badenhorst), het groot geword as plaaskind in Coligny omgewing, getroud met Andries met  'n rykdom van 3 dogters, 2 skoonseuns en 4 kleinkinders.  Skoolloopbaan voltooi in Coligny en verdere studies in Pretoria. Ek en my man woon tans in Lichtenburg. Sluit in 1987 by Lichtenburg tak aan vir 2 jaar, 2002 sluit ek by Dorwo tak aan, dien 2 jaar as visevoorsitster, 5 jaar as takvoorsitster en 3 jaar tesouriere.  Op Streekvlak het ek 4 jaar gedien as tesouriere, 6 jaar as Sonneblom Streekvoorsitster en 4 jaar as Noordwes visepresidente. Ek hou baie van preservering, gebak, kunsvlyt, fotografie en blommerangskikking. Woon graag alle VLU- geleenthede by. Elke geleentheid word deur my beskou as 'n uitdaging waar jy jouself kan verryk met kennis. Is lief vir tuinmaak, seil, hekel, stap en doen Aqua-aërobiese oefeninge om fiks te bly. Ek en my man is lief vir die natuur, ons toer graag in die wildernis saam met geliefde vriende en familie. VLU is vir my 'n wonderlike leerskool, ek glo mens groei wanneer jy ervaring, talente en kennis met ander kan deel. Ek is dankbaar vir die voorreg om deel te kan wees van hierdie wonderlike organisasie.

Barbara Nell

Vroue Landbou-Unie Overvaal

Ek is ‘n Pretorianer in murg en been. Ek is in Pretoria gebore, het hier skoolgegaan en verwerf ‘n graad aan die Universiteit van Pretoria. Ek woon steeds in die pragtige Jakarandastad. Ek is getroud met ‘n wonderlike, geduldige man en het twee kinders wat my hart se punt is. Hoewel ek vir jare was jare betrokke was by volwasse onderrig met die fokus, op leierskap bedryf ek en my man saam ‘n staalkonstruksie besigheid. ‘n Boek hou vir my bekoring in en ek kan myself daarin verloor, ek geniet dit ook om kreatief wees want dit is goed vir my siel. Ons hou van kamp en geniet die Kruger Wildtuin. Mosambiek is my hartsplek en dit is waar ek op my gelukkigste is. Die VLU het begin as ‘n aktiwiteit wat ek saam met my ma kon doen. Hier is ek steeds 24 jaar later. Ek was vir 9 jaar Monumentpark-tak se takvoorsitter, ses jaar Jakarandastreek se Streekvoorsitter en vir 6 jaar VLU Overvaal se Visie-President. Die VLU as organisaie het soveel om vir vroue te bied. Dit is ‘n voorreg om deel te wees van hierdie verrykende organisasie.

Gerda Pienaar

Vrystaat Vroue Landbou-Unie

Ek het grootgeword in Bethlehem en omgewing. Studeer Onderwys by KOVSIES en gee Afrikaans vir Graad 10 tot 12 by Hentie Cilliers Sekondêre skool in Virginia. Trou in 1979 met Andries Pienaar, ‘n boer van die omgewing. Ons rykdom is ons kinders en kleinkinders. Sluit Feb 1980 by Virginia VLU aan waar ek vir ongeveer 17 jaar Voorsitter van die tak was. Word in 2011 Area 8 se Uitvoerende Bestuurslid en in Sept 2017 is ek verkies as President van VVLU.‘ n Wonderlike voorreg en geleentheid. VLU is my passie en ek gee al die eer aan die Here om dit op hierdie manier te kan uitleef.